top of page

ALGEMENE VRAE OOR SPRAAK- EN TAALONTWIKKELING

Algemene Vrae- Ontwikkeling  3-5 jariges-1 copy.jpg

In hierdie afdeling word vrae wat ouers dikwels vra kortliks hanteer:

  • Onthou egter dat daar verskeie opinies die rondte doen en dat “spraakterapie-hub” maar slegs een van vele stemme is.

  • ‘n Goeie plan is om ‘n spraak- en taalterapeut te kontak en ‘n konsultasie te reël indien u voel dat die inligting wat hier verskaf word u bekommerd maak oor u kind, onvolledig is of lei tot net meer vrae.

  • Het my kind ‘n spraak- of taalagterstand?
    Ouers raak gewoonlik eerste bekommerd oor hul kind se taal- of spraakontwikkeling. Jou kind se uitspraak mag dalk onduidelik wees of sy mag dalk korter sinne gebruik as ander kinders van haar ouderdom. In so ‘n geval kan ouers die pediater kontak en ‘n mediese ondersoek skeduleer. ‘n Gesprek met u kind se dagsorg-moeder of kleuterskool onderwyser/es is gewoonlik ook waardevol. U kan ook die volgende mylpale as breë riglyn in gedagte hou: Eenjariges verstaan gewoonlik ‘n hele aantal woorde en begin ‘n paar woorde gebruik. Twee-jariges begin woorde kombineer in kort twee- en driewoord frases. Drie- en vierjariges begin ‘n gesprek voer, vrae vra en beantwoord en instruksies uitvoer. Na die ouderdom van 5 begin sinne al hoe langer en komplekser raak. Kinders begin woorde soos “wanneer” en “terwyl” inspan om twee gedagtes aanmekaar te koppel al is die woordorde nie altyd korrek nie. Vier-jariges se spraak is verstaanbaar vir mense buite die familie- kring al word moeiliker klanke soos /s/ en /r/ nog soms foutief uitgespraak. Tussen die ouderdomme van 5 en 7 begin kinders alle klanke korrek uitspreek.
  • Wanneer mag my kind sekere aspekte van spraak- en taalontwikkeling moeiliker vind?
    Akademiese en sosiale sukses hang tot ‘n groot mate af van die ontwikkeling van u kind se spraak- en taalvaardighede. U kind sal sekere aspekte van kommunikasie-ontwikkeling moeiliker vind indien: U kind baie lank gehospitaliseer is (bv. vir 6 maande of langer). U kind herhaaldelik las het van middeloorinfeksies. U kind moeilik verstaan word deur sy maats en mense buite die familie-kring. U kind baie gefrustreerd raak in ‘n kommunikasie-situasie en dit nie lyk of dit verbeter nie. U kind beduidende trauma ervaar het met bv. geboorte of tydens ‘n motorongeluk. U kind nie die basiese spraak- en taalmylpale binne die norm bereik nie/het nie. ‘n Agterstand van meer as ‘n jaar behoort waarskynlik ondersoek te word.
  • Wanneer moet ek waarskynlik my drie-jarige se spraak en - taalontwikkeling laat ondersoek?
    U kind gebruik slegs een of twee woorde op ‘n keer in plaas van kort sinne, Dit lyk of u kind nie verstaan of hoor wat gesê word nie. Dit lyk of u kind die kommunikasiemaat ignoreer. Dit lyk of u kind geensins ‘n gesprek wil begin nie. Dit lyk of u kind nie instruksies verstaan sonder gebare of “uitwys” nie. U kind se uitspraak is baie moeilik verstaanbaar is. U kind is geneig is om ander se sinne na te boots in plaas van om te reageer. U kind kan nie 8 tot 15 liggaamsdele uitwys en benoem nie. U kind verkies om slegs alleen te speel en nie na maatjies uit te reik nie. U kind nie reageer op opdraggies met posisiewoorde soos op, af, in, uit, oor, onder nie. U kind kan nie kleure pas of groot en klein onderskei nie.
  • Wanneer moet ek waarskynlik my vier-jarige se spraak- en taalontwikkeling laat ondersoek?
    U kind gesels slegs in twee- of drie woord frases. Woordorde in sinne is opvallend foutief. U kind reageer nie op eenvoudige vrae (wat, waar, hoe, hoekom) nie. Sinne, gedagtes en woorde is onsamehangend en moeilik om te verstaan. U kind gesels nie graag nie en verkies om net die nodigste te sê. U kind kan nie eenvoudige twee-deel instruksies soos “gaan kamer toe en bring jou skoene” uitvoer nie. U kind kan glad nie na ‘n twee- of drie-sin storie luister en dan ‘n eenvoudige vraag daaroor beantwoord nie. U kind kan nie basiese emosies in woorde uitdruk nie. U kind vervang steeds baie spraakklanke en sê nog nie klanke soos /n, /m/, /p/, /t/, /k/, /b/, /g/ en /d/ nie (dis steeds aanvaarbaar om nog met moeiliker klanke soos /s/, /r/, /l/, /w/ en /j/ te sukkel).
  • Wanneer moet ek oorweeg om my vyf-jarige se spraak- en taalontwikkeling te laat ondersoek?
    U kind praat slegs in drie- of vier-woord sinne. U kind het geen konsep van tyd nie en kan nie vrae oor oor”more” of “gister” antwoord nie. U kind se spraak is onduidelik en mense buite die familiekring verstaan u kind nie. U kind praat baie maar sy gesprek maak nie sin binne die konteks nie. U kind vind dit bykans onmoontlik om stil te sit vir ‘n storie van selfs net vier of vyf sinne sonder om “uit te sny” (“tuning out”) of te begin dagdroom. U kind sukkel om basiese konsepte soos “naby”, “vêr, langs te verstaan. U kind vind dit moeilk om vorms te sorteer van groot na klein en ‘n reeks gebeure in volgorde te rangskik. U kind verstaan nog nie konsepte soos “dieselfde” en “verskillend” nie. U kind stel glad nie belang in groeps-geselsies of groeps- aktiwiteite nie.
  • Wat is fonologiese bewusmaking en waarom is dit belangrik?
    Fonologiese bewusmaking is die proses waarin die kind bewusraak van die fonologiese struktuur of klankstruktuur van woorde. Fonologiese bewusmaking speel ‘n belangrike rol in die ontwikkeling van lees en spelling. • Hoe ontwikkel fonologiese bewusmaking? • Kleuters (4- en 5-jariges) raak bewus van rym en alliterasie (beginklank-herhaling) tydens blootstelling aan kleuter rympies en liedjies. Hulle begin dan om uit ‘n reeks rymwoorde die een wat nie pas nie te identifiseer (bv. kat, mat, rat, los). Hulle begin woorde in lettergrepe uitklap (bv. ka-meel-perd = 3 klappe) en woorde met dieselfde beginklanke saam groepeer bv. bus, bok, bed). • Ouer kleuters (5 1⁄2 tot 6 1⁄2 jaar) begin aanvangsklank en rympatroon saamvoeg (bv. k-at, m-at, d-at). Verder begin hul nou die beginklanke in woorde benoem of uitwys en selfs twee of drie klanke saamvoeg om nuwe woorde te bou (bv. k-at = kat, l-ap = lap). Hul raak so slim dat hul later met gemak die begin- en middelklanke in woorde kan identifiseer en sommer so speel-speel rymwoord-reekse vorm (bv. sap, lap, tap, kap ens.). Die kleuter raak ook bewus van samestellings en kan bv. aangemoedig word om een woord in ‘n samestelling weg te laat (bv. roomys sonder ys = room). Onthou dat hierdie net luister- of klankspel behels en dat die kleuter nie die letters hoef te lees nie. • Die skoolgaande kind (7- tot 9-jariges) raak al hoe gemakliker met fonologie en beskik nou oor die vermoë om klanke weg te laat, by te voeg en te manipuleer (bv. wat is op met ‘n k vooraan, son sonder s of sap sonder p?). Later word die middelklanke van woorde vervang (bv. wat is sop met ‘n a? = sap) of een klank van ‘n konsonant kombinasie weggelaat (bv. wat is klas sonder k? = las). • ‘n Effektiewe manier om ‘n kind se fonologiese bewusmaking te ontwikkel is om die klank te selekteer waaraan daar tans by die skool gewerk word. U kind leer dan om ‘n spesifieke klank met ‘n spesifieke letter te assosieer. Die ouer kind se spelwoorde of leeslys kan gebruik word vir fonologiese manipulasie speletjies. Dis sinvol om klanke en woorde uit die kind se leer-omgewing te selekteer. • Spraakterapie Hub se “beginklanke” en “middelklanke” programme kan gebruik word om fonologiese bewusmaking te ontwikkel as deel van die groter prentjie van geletterdheid. Kies gerus die beginklank wat daardie week in u kind se klas behandel word vir meer blootstelling of gebruik die programme vir hersiening en inskerping.
bottom of page